Tiaan Meyer van “Meyer en Associates Architects”, het die geboue ontwerp rondom die beginsels van volhoubaarheid en met betrekking tot die kulturele erfenis van die gebied.
Die gebouekompleks pas naatloos en sensitief binne die konteks. Die ekspressiewe vorm en geboë dakvorm volg die golwende voetheuwels van die Witzenberge na.
Die “Anna Zaal” (ongeveer 1927), die eerste kerk- en skoolgebou op die plaas, is gerestoureer as ‘n nuwe voordeur tot die skool. Die idee is dat dit die gedagte “deur die verlede na die toekoms” moet uitbeeld. Donker eksterne kleure word afgespeel teen die helder aksente rondom openinge en ingange. Daarteenoor is die “Anna Zaal” en die koniese water- en windtoring albei wit.
Terwyl die “Anna Zaal” die verband weerspieël met die witgekalkte Kaapse boutradisie, verteenwoordig die toring ‘n groen en ekologies volhoubare toekoms. Die toring verwys ook na regionalistiese tipologieë soos die geboë hutte van Worcester en die Karoo en natuurlike tipologieë soos miershope, met sy eie lesse in ekologiese ontwerp.
Ligte en helder interieurs stimuleer kreatiwiteit en inspireer die intellektuele en emosionele ontwikkeling van laerskoolleerders. Die argitekte het doelbewus meubels en toerusting daarvoor gekies.
Die geboue werk hoofsaaklik onafhanklik van die Eskom-netwerk, met son- en windgeneratorvermoë wat deur prominente interaktiewe uitstallings in die skool aangetoon word. Die terrein word besproei met stormwater wat in ‘n reservoir onder die geboue gestroop en gestoor word. Rioolafval word in ‘n rioolverpakkingsaanleg behandel.
Die twee produktiewe speelareas sluit ‘n suurlemoenboord en groentetuin in wat die skoolvoedingskema en die BOSJES Kombuis restaurant bedien.
Die skoolgeboue toon aan hoe kontemporêre tegnologie en vindingryke argitektoniese ontwerp landelike Suid-Afrika kan bevoordeel. Binne ‘n kort tydjie het die skool ontwikkel tot een van die belangrikste opvoedkundige middelpunte in die omgewing, waarvandaan die Universiteit van Stellenbosch afstandsonderrig- en onderwysopleidingskursusse aanbied.
Die innoverende ontwerp van die skool het die kwaliteit van onderrig dramaties versterk. Die leerders self toon en straal trots uit vir hul skool en maak ten volle gebruik van die geleentheid om dit wat aan hul gebied word met ope arms te ontvang en op ‘n verantwoordelike wyse te benut.